G E B E D I N J O U W E R K P L E K
Praktiese riglyne (Dr Bennie Mostert)
Die grootste deel van ons dag word in die werkplek spandeer. Dit is die plek waar elke Christen sy geloof moet uitleef. Die werkplek is soms ‘n onvriendelike omgewing, maar dit is ook die plek waar ons te doen kry met mense wat Jesus nie as Verlosser ken nie en waar ons mense in nood kan help.
Die werkplek is die plek waar ons hoop kan bring en is die plek waar ons d.m.v. ons beroep ons roeping kan uitleef. Die werkplek gee vir ons geleentheid om by mense uit te kom wat nie meer by die kerk kom nie of wat nog nooit aan die kerk behoort het nie.
Wanneer ons die omvang van die nood van mense rondom ons sien, besef mens baie gou dat dit alleen deur die krag van God is dat enige verandering kan kom. Wanneer ons bid, werk God in die lewens van mense. In Jak.4:3 lees ons: Julle het nie omdat julle nie bid nie. In Jak.5:16 lees ons: Die gebed van ‘n regverdige het ‘n kragtige uitwerking. Dit is wanneer ons bid, dat geestelike deure en deure na mense se harte oopgaan.
Vestig Gebedsgroepe
Een van die belangrikste en mees effektiewe dinge wat ons kan doen om die koninkryk van God te sien kom, is om gebedsgroepe te vestig in elke kantoor, fabriek, skool, polisiestasie, bank, klein besighede, ens. Deur ons gebede bring ons die behoeftes van die mense in ons land en ook besighede en gemeenskappe na God toe om te vra dat Hy sal ingryp. Kyk na die Matt.18:19-20: Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.
Die werkplek gee vir ons geleentheid om by mense uit te kom wat nie meer by die kerk kom nie of wat nog nooit aan die kerk behoort het nie. Die werkplek gee vir ons geleentheid om by mense uit te kom wat nie meer by die kerk kom nie of wat nog nooit aan die kerk behoort het nie.
Mag die volgende drie Skrifgedeeltes jou bemoedig wanneer jy begin om ‘n gebedsgroep in jou werkplek te vestig.
‘n Mens moet altyd aanhou bid sonder om moedeloos te word. (Luk.18:1)
As julle dag en nag bid, sal Ek regmaak wat verkeerd is. (Luk.18:7)
Laat ons dan met vrymoedigheid na die genadetroon gaan om op die regte tyd gehelp te word. (Heb.4:16)
Praktiese Riglyne vir die Vestinging van Gebedsgroepe
Een van die belangrikste dinge wat Christene kan doen is om gebedsgroepe in die werksplek te begin. Dit is in hierdie gebedsgroepe waar daar vir al die praktiese dinge in die werksplek gebid kan word. Dit is hier waar korrupsie plaasvind, die invloed van vakbonde gevoel word, werkers uitgebuit word en onbillike eise aan werkgewers gestel word. Die volgende is praktiese riglyne vir die vestiging van gebedsgroepe in die werkplek.
1. Soek minstens een ander persoon in jou werksomgewing of onder jou vriende met wie jy kan saam bid. Vra individue een vir een om te kom saambid.
2. Begin om een keer per week saam te kom om te bid. Indien julle na ‘n aantal weke voel om dit meer as een keer ‘n week te maak, doen dit dan net eers twee keer per week. Baie gebedsgroepe stagneer en loop dood omdat mense probeer om elke dag vir gebed bymekaar te kom. Dit werk selde.
3. Indien julle 'n gebedsgroep in die werkplek vestig, maak seker dat julle voor werk of tydens middagete of teetyd bymekaar kom. Neem ongeveer 30 minute vir gebed wanneer julle 'n gebedsgroep in die werkplek vestig. Andersins is 'n uur tot een en 'n halfuur genoeg.
4. Moet asseblief nie begin om “sprekers” te reël nie. Dit is ‘n gebedstyd. Sprekers preek die gebed dood en later kom niemand nie.
5. Lees 'n paar toepaslike Skrifgedeeltes. Maak hoogstens een of twee opmerkings daaroor. (Moenie meer as 5 minute daaraan spandeer nie.) Daar is wel plek vir iemand om 'n opmerking oor gebed te maak – iets wat hy/sy geleer het of voel om oor te dra. Daar is ruimte hiervoor, maar maak seker dat gesprekke oor gebed nie verhinder dat daar gebid word nie. Dit is belangrik om tyd te gee vir 1-2 getuienisse van antwoorde op gebed. Dit is egter belangrik dat dit 'n getuienis moet wees en nie in 'n preek moet ontaard nie.
6. Dit is belangrik om tyd te gee vir 1-2 getuienisse van antwoorde op gebed. Dit is egter belangrik dat dit ‘n getuienis moet wees en nie ‘n preek nie.
7. Skep geleentheid aan die begin waar mense gebedsversoeke kan gee. Waak daarteen om nét vir persoonlike versoeke en al die siek mense te bid. Ons gebedsverantwoordelikheid is groter as dit.
8. As julle besluit om koffie/tee te drink by die geleentheid, doen dit ná die tyd. Maak eers julle gebedstyd klaar en hou die gesels en koffie/tee vir na die gebedstyd.
9. Probeer sover as moontlik om elke persoon in die gebedsgroep te kry om vir minstens drie ongeredde persone te bid (vriende, familie, kontakte in die werkplek, ens.) Wanneer daar in ‘n groep gebid word, is dit gewoonlik moeilik om die name te noem van die persone vir wie jy bid. Bid egter in jou eie stiltetye vir hierdie persone se redding.
10. Wees gefokus in julle gebedstyd. Bid vir sake rakende julle werksplek (besluite wat geneem moet word, krisisse, kontak met mense na buite, ens.); Elke lid van die groep bid vir die redding van 2-3 persone; Bid vir persoonlike behoeftes; Die regering; Minstens een relevante saak wat daardie week in die nuus is en wat die lewens van mense in die land raak; Ander sake wat julle voel die Here op julle hart lê om voor te bid. Moenie probeer om elke keer oor ál hierdie sake te bid nie. Dit sal meer as genoeg wees om 3-4 sake te neem en daarvoor te bid.
11. Daar is verskillende praktiese maniere om te bid. Daar is plek vir spontane gebed – gee tyd vir mense om te bid soos wat hulle wil, een na die ander. Indien dit ‘n groep van 8 of meer mense is, deel hulle in groepe van 3 en bid vir die verskillende sake. Jy kan een of twee spesifieke individue direk vra om vir ‘n bepaalde saak te bid. Almal kan gelyktydig bid (nie alle mense is gemaklik daarmee nie, maar in sommige groepe sal dit werk). Dit is gewoonlik goed om ‘n kombinasie van hierdie tipes gebed in ‘n spesifieke gebedstyd te gebruik. Om te sing is ook gebed. Moenie binne hierdie situasie meer as 2-3 liedere sing nie.
12. Moedig mense aan om die Skrif te bid. Daar is 'n verskeidenheid boeke beskikbaar om hiermee te help. Daar is ook talle boekies met Skrifbeloftes wat met groot vrug gebruik kan word. Doen navraag by ‘n Christelike boekwinkel of kontak Jerigo Mure vir materiaal. Een van boeke wat baie nuttig is, is Bid die Woord/Pray the Woord, wat by Jerigo Mure beskikbaar is en ook The Sword (tans net in Engels.)
‘n Aantal Sake waarop julle in julle Gebedstye kan Fokus:
Moenie probeer om elke keer deur al hierdie sake te bid nie. Neem 3-4 van hierdie onderwerpe en gebruik dit as gebedsfokusse vir julle gebedsbyeenkoms.
Algemene sake vir Gebed in die Werksplek
a. Vra die Heilige Gees om vir jou te wys wat elke persoon se persoonlike behoeftes is en hoe om hulle te bedien. Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord - Kol.4:6.
b. Seën die mense wat saam met jou werk, bid vir hulle beskerming en dat hulle die liefde van God vir hulle sal sien en ook ervaar. Die Here sal julle seënen julle beskerm;die Here sal tot julle reddingverskynen julle genadig wees;die Here sal julle gebede verhooren aan julle vrede gee! – Num.6:24-26.
c. Bid vir die redding van die individue rondom jou. Hy wil nie hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer – 2 Pet.3:9.
d. Bid dat die Heilige Gees jou sal help om onder alle omstandighede eerlik te wees, met integriteit op te tree en die voordeel van ander te soek. Die opregtheid van eerlike mense bepaal hulle koers. (Spr.11:3) Wie opreg leef, leef sonder vrees; wie krom paaie loop, word uitgevind. (Spr.10:9)Julle moet ’n betroubare skaal en die regte gewigte en inhoudsmate gebruik. (Lev.19:36)
e. Bid vir die individue se behoeftes sonder veroordeling of kompromie.
f. Bid dat die personeel in vrede met mekaar sal kan saamwerk en dat daar nie bitterheid, vyandskap of oneerlikheid sal wees nie.
Wat om as Werkgewer te Bid
a. Neem voor God verantwoordelikheid vir die werknemers wat vir jou werk en wat God aan jou toevertrou het. Bid en vra die Here om jou te help om gedissiplineerd vir hulle te bid en ook vir wie om te bid.
b. Bid vir die redding van jou werknemers en kliënte. Hy wil nie hê dat iemand verlore moet gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. (2 Pet.3:9) Ek het nie gekom om mense te red wat op die regte pad is nie, maar sondaar(2 Pet.3:9; Luk.5:32)
c. Vra die Here om jou te help om regverdig en billik te wees. Betaal billike en regverdige lone. Die Skrif sê: “Jy mag nie ’n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie,” en ook: “Die arbeider is geregtig op sy loon.”(1 Tim.5:18)
d. Vra die Here om jou die hart van 'n dienskneg te gee, 'n leier wat 'n dienskneg sal wees. Die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien (Matt.23:11). Elkeen wat onder julle eerste wil wees, moet julle slaaf wees (Matt.20:27).
e. Vra die Here om jou te help om ander hoër te ag as jouself. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Fil.2:3).
f. Lewer goeie diens en lewer 'n goeie produk vir mense. Die Here het ‘n afsku van ‘n skaal wat nie reg weeg nie. (Spr.11:1)
g. Bid dat die Here jou sal help om konflik tussen mense te hanteer - om duidelik te weet wat om te doen en om mense wat seergekry het te kan help.
Wat om as Werknemer te Bid
a. Neem voor God verantwoordelikheid vir die werk wat jou werkgewer aan jou toevertrou. Wie omgee vir sy werkgewer se belange sal daarvoor eer ontvang (Spr.27:18)
b. Doen jou werk asof vir die Here. Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here, en nie vir mense nie (Kol.3:23).
c. Bid vir 'n gesindheid van onderdanigheid, gehoorsaamheid, gewilligheid om by die reëls te hou en opdragte uit te voer. Bid vir 'n gesindheid van om te dien. Die Seun van die mens het gekom om te dien en sy lewe te gee as losprys
d. Bid vir kreatiwiteit. Die Gees van God wat in ons woon is 'n kreatiewe Gees. Bid dat die Gees jou sal wys hoe om beter maniere te kry om die werk te doen, nuut te kan dink en nuwe dinge uit te vind wat vir jou en jou werkgewer tot voordeel sal wees.
e. Bid God se seën daagliks af oor jou werkgewer, sy/haar gesin, gesondheid, insig om goeie besluite te kan neem, fisiese en geestelike beskerming. En bid daagliks God se seën af oor die mense saam met wie jy werk asook vir kliënte. (Num.6:24-26; 1 Kron.4:10)
f. Vra die Here om jou te help om in 'n span te kan werk en ander hoër te ag as jouself. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook dié van ander (Fil.2:3).
Bid vir Deurbrake t.o.v. Nasionale Probleme
a. Die MIV/VIGS pandemie. Bid vir deurbrake in die navorsing oor MIV en VIGS.Bid vir seksuele reinheid en getrouheid binne die huwelik (wat nog steeds die grootste oorsaak vir die verspreiding van MIV en VIGS is). Bid vir die regering om wyse besluite te neem oor die behandeling van hierdie siekte en vir wysheid oor hulpverlening en hulp aan MIV en VIGS weeskinders. God kan genees en uitkoms gee. Jesus het vir hulle gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.” Jy moet die Here jou God dien. Dan sal Hy jou met kos en water seën en siekte van jou af weghou. (Eks.23:25).
b. Pornografie, onsedelikheid, perversiteit en prostitusie. Dat jongmense 'n besluit sal neem om rein te lewe en nie aan groepsdruk toegee nie. Bid dat die Heilige Gees mense sal beskerm, vir 'n nasionale beweging teen die vrylike verspreiding van pornografie en wetgewing om prostitusie te verbied. Dat die kerk hierdie saak in prediking sal aanspreek en Christene heilig sal lewe. Besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie?... Julle behoort nie aan julleself nie… Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik. (1 Kor.6:19-20).
c. Die groeiende getal arm en behoeftige mense, onreg en skadelike optredes en dade. Bid oor die uitbuiting van armes a.g.v. wetgewing en monopolieë wat mense in armoede hou. Bid vir meer bedieninge vanuit die kerk om die nood van armes aan te spreek, dat arm lande se skuld afgeskryf sal word en van onredelike rentes vrygestel sal word; dat regerings die probleem van armoede met wysheid sal hanteer en gesonde langtermyn oplossings sal implementeer.Maar die Here sê: “Die swakkes word mishandelen die armes kla.Daarom gryp Ek nou inen gee uitkoms aan diéwat daarna smag.” (Ps.12:6). Is dit nie dat jy vir dié wat honger is,van jou brood gee nie,dat jy aan die armes en die dakloses’n blyplek gee nie,dat wanneer jy iemand sonder klere sien,jy vir hom klere gee nie,dat jy jou medemensnie aan sy lot oorlaat nie? (Jes.58:7).
d. Korrupsie op alle vlakke, onheilige verbonde. Korrupsie en verbonde wat gebou is op die uitbuiting en bedrieg van mense bring die oordeel van God. Bid dat hierdie soort ooreenkomste en transaksies aan die lig sal kom en korrupsie uitgeroei kan word; vir die ontbloting van alle vorme van nepotisme (om vir familie en vriende kontrakte en werk te gee en ander daardeur te benadeel) in die regering en sakesektor. Bid vir wetgewing wat korrupsie sal beperk. Sien Jes.58. “Net dié mens wat reg bly doenen opreg is in wat hy sê,wat weier om wins te maakdeur mense uit te buit,wat omkoopgeld weier,nie na moordplanne luister nieen nie geleentheid soekom misdade te pleeg nie.So ’n mens sal sy woonplekin die hoë berge hê,sy skuilplek sal ’n rotsvesting wees.Kos sal hy kryen sy drinkwater sal nieopraak nie. (Jes.33:15-16).
e. Die vervolging van Christene Daar is ‘n besliste toename in vervolging van en onverdraagsaamheid teenoor Christene in baie lande. In baie gevalle is dit nie openlik nie, maar -- in baie lande waar Kommunisme nog sterk is en waar Boeddhisme, Hindoeïsme en Islam die oorheersende godsdienste is. Bid vir Christene se beskerming en vir vrymoedigheid om die evangelie te bly verkondig. Daar is veral in Westerse lande (Europa, VSA, ens.) 'n beduidende toename in vervolging van en weerstand teen die evangelie en Christene.“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.” (Matt.5:11-12).Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. (Kol.1:11-12).
f. Bloedvergieting: Aborsie, etniese geweld, moord en selfmoord. Daar is letterlik op enige gegewe dag minstens 'n tiental oorloë en terroriste-aktiwiteite reg oor die wêreld aan die gang. Bid vir die vrouens en kinders wat die meeste daardeur geraak word, vir internasionale bemiddeling wat tot vrede sal lei, asook vir die verskillende partye om vrede te soek en dit te handhaaf. God haat hande wat met bloed bevlek is. (Spr.6:16-17).Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My. Vervloek is jy dan nou, verban van die grond af wat gretig die bloed van jou broer uit jou hand opgeslurp het. (Gen.4:10-11).Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. (1 Pet.1:19). Deur die bloed van sy Seunaan die kruishet Hy die vrede herstel,deur Hom het Hy alles op die aardeen in die hemelmet Homself versoen. (Kol.1:20).
g. Mishandeling en uitbuiting van vroue en kinders, huishoudelike geweld, verkragting, ens. Hierdie is 'n al groter wordende probleem in ons samelewing. Pleit by God vir die beskerming van vroue en kinders, die herstel van gesinne, vir bevryding van mans uit pornografie en drankmisbruik, vir elkeen wat sukkel met 'n swak selfbeeld en vir die bevryding van die negatiewe effek van afwesige vaders.’n Vader vir weeskindersen ’n beskermervan die reg van weduweesis God in sy heilige woning. (Ps.68:6). Bring my op ’n rotswaar ek veilig sal wees. (Ps.61:3). Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld. (Jak.1:27).
h. Rassisme. Rassisme is 'n universele probleem en daar is 'n toename in rassisme en etniese geweld. Daar is verskeie redes vir oorloë: Selfsug, magsbeheptheid, swak en oneffektiewe besluitneming van regerings en onderdrukkende wetgewing. Leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal. (Kol.3:10-11).
Bid vir Ongeredde Persone
Maak vir jou ‘n lys van 3-5 persone vir wie se redding jy wil bid. Die volgende riglyne sal jou help om sinvol vir ongereddes te kan bid.
Stap 1: Bid dat God hulle sal seën. Bid vir hulle totale menswees: waar hulle leef, hulle gesinslewe, huislike omstandigehede, werkplek en werksver-houdings, sosiale lewe, vriende en vriendskappe, beskerming, gesondheid, finansies, redding, ens. Jy kan Numeri 6:24-26 gebruik: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!
Stap 2: Bou verhoudings. Terwyl ons vir iemand bid, is dit belangrik om verhoudings met hulle te bou op sosiale en vriendskapsvlak (waar moontlik) – ongeag van hulle geloofsoortuiging, maar sonder kompromie.
Stap 3: Identifiseer die nood van hierdie mense: geestelike, emosionele en fisiese nood. Luister na hulle en probeer hulle pyn, frustrasies, nood, teleurstellings, drome en verwagtinge verstaan. Verleen fisiese en/of emosionele hulp waar moontlik. Meer mense is bereid om te luister na wat jy hulle van Jesus Christus wil vertel as hulle kan sien dat jy regtig op 'n praktiese manier omgee en hulle lief het en aanvaar.
Stap 4: Getuig. Soek vir natuurlike geleenthede waar jy kan vertel van dit wat God vir jou beteken en al in jou lewe gedoen het sonder om te preek of te spog. Nie alle mense voel dat hulle die “gawe van evangelisasie” het nie, maar almal van ons kan vir iemand bid, prakties by nood betrokke raak en vriendskappe bou.
AGT VRAE: Wanneer jy vir iemand bid, vra spesifiek dat die Heilige Gees die volgende vrae in sy/haar hart sal opwek en dat hulle na antwoorde op die vrae sal begin soek.1. Wie kan ek vertrou? 2. Wat is die doel van my lewe? 3. Wanneer sal ek vry wees? 4. Waar gaan ek heen wanneer ek sterf? 5. Waarom haat ek God en hardloop ek van God af weg? 6. Hoe kan ek my probleme hanteer? 7. Waar sal ek veilig wees? Wie kan my beskerm?8. Waarom is ek skepties of betwyfel ek die bestaan van God?
'n Gebed om vir 'n Ongeredde Persoon te Bid
"Vader, U Woord is duidelik dat dit beslis nie U wil is dat die goddelose moet sterf nie, maar dat hy/sy hom/haar sal bekeer sodat hy/sy kan bly lewe. (Eseg.18:23). Die Woord leer dat U geduldig is met ons omdat U nie wil hê dat iemand verlore gaan nie, maar dat U wil hê dat almal hulle moet bekeer (2 Pet.3:9), dat alle mense gered moet word en tot kennis van die waarheid kom. (1 Tim.2:3-4).
U het die wêreld so liefgehad dat U U enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh.3:16). U bewys U liefde vir ons deurdat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. (Rom.5:8). Op grond hiervan bid ek vir ______ se redding en dat U aan hom/haar die ewige lewe sal gee. Vader, soos wat U dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil - ek bid dat U ______ sal lewend maak. (Joh.5:21). Vader, trek ______ na U toe, want niemand kan na Jesus toe kom as U die persoon nie na Jesus toe trek nie. Die wat U na die Here Jesus toe trek, sal U op die laaste dag uit die dood opwek. (Joh.6:44).
Ek bid vir die bevryding van ______ uit elke mag en greep van die Bose op grond van die feit dat U gesê het U gee aan ons die sleutels van die koninkryk van die hemel en dat U beloof het dat dit wat ons op die aarde toesluit, in die hemel toegesluit sal bly; en wat ons op die aarde oopsluit, in die hemel oopgesluit sal bly. In U Naam staan ek die duiwel teë sodat hy van ______ sal wegvlug en in U Naam ontbind ek ______.(Matt.16:19 / Jak.4:7).
Here Jesus, U het U Gees aan die kerk gegee sodat Hy aan mense kan wys waar en hoe hulle skuldig is aan sonde. Oortuig ______ van sonde in sy/haar lewe. (Joh.16:8). U Gees is die Gees van waarheid (Joh.14:17), die Gees van liefde. (2 Tim.1:7). Mag U Gees ______ van die waarheid oor homself/haarself en oor wie God is en van God se ewige liefde oortuig. Here Jesus, U sit aan die regterhand van die Vader om vir ______ in te tree. (Rom.8:37). Vader, mag U alomteenwoordige, alwetende en almagtige Gees (Ps.139:7; Jes.40:13; Sag.4:6)elke oomblik in ______ werk. Heilige Gees, ek weet nie reg hoe om vir ______ te bid nie, maar sal U met onuitspreeklike versugtinge by die Vader vir ______ intree? Vader, mag U Heilige Gees aan ______ nuwe lewe gee. (Eseg.36:26). In Jesus Naam vra ek dat U Gees ______ tot insig sal bring (Jes.11:2) lewend sal maak (Joh.6:63)en wederbaar. (Joh.3:3). Mag U Gees van aanneming tot kinders aan ______ U begeerte openbaar om hom/haar as U kind aan te neem. (Rom.8:15).
Vader, Jesus Christus is die Lam wat reeds voor die grondlegging van die wêreld vir ons geslag is. (Op.13:8). Here Jesus, U het gekom om sondaars te red, red dan ook vir ______. (Luk.5:32). Deur U kruisdood, het U die volle prys vir ______ se sonde betaal. (Joh.19:30).
U he ons as priesters aangestel (Op.1:6) en as priester tree ek vir ______ in - dat hy/sy met U versoen sal word. U het aan ons die bediening van die versoening gegee en hierdie opdrag voer ek voor U uit deur te bid dat ______ met U versoen sal word. (2 Kor.5:18-20)."
Om hierdie Gebedsriglyn in WORD af te laai, kliek hier: WERKSPLEK