50 DAE OM ONS LAND TE SEEN
16 April – 4 Junie 2017
(Opstanding Sondag tot Pinkster Sondag)
DOEL:
Die doel van hierdie nasionale inisiatief, “#50DaevanSeënvirSuidAfrika”, is sodat Christene verantwoordelikheid vir ons land kan neem in die geloof dat God die harte van Suid-Afrikaners kan en wil verander. Ons eerste opdrag is om Hom te vra om ons eie harte te verander van ‘n negatiewe perspektief na een van geloof en vertroue dat Hy ons wil gebruik om ons land positief te beïnvloed. Ons sien die kragtige invloed wat media het wanneer leiers se woorde verdraai en uitgebuit word om rassehaat en geweld aan te wakker, en vloeke op mense uitgespreek word; of wanneer een persoon, met een enkele onverantwoordelike boodskap op sosiale media, ‘n soortgelyke vloek in ons land wakker maak. Ons as Christene se woorde moet anders wees – ons moet seën eerder as vervloek, genees eerder as verwond, herstel eerder as vernietig.
STRATEGIE:
Vul Suid-Afrika met Gebed oor 50 dae deur…
- ‘n Daaglikse seën oor Suid-Afrika te bid
- Gebed-stap of Gebed-ry deur jou buurt, gemeenskap, dorp, stad, plaas, omgewing, inkopiesentrum, besigheidsdistrik of industriële gebied
- Tree in vir die verlossing van mense wat verlore is en nie vir God ken nie
- Individuele gelowiges, gebedswake, gebedsgroepe, gemeentelike gebed
HOE OM DEEL TE NEEM:
- Laai die gebedsgids oor hoe om SUID-AFRIKA TE SEËN, af van www.jwipn.com of besoek die webwerf INTERCESSORS FOR SOUTH AFRICA www.ifsaprayer.co.za.
- Registreer op +27 817161203 vir ‘n daaglikse Whatsapp boodskap met praktiese idees vir seën.
- Gebed-stap met ‘n vriend. Bid vir die behoeftes van mense. Lees Skrif hardop. Verander Bybelverse in gebed. Vra die Heilige gees om jou oë en ore oop te maak en jou te help om te bid wat op Sy hart is. Rig jou gebede tot God as jy met die bose te doen het. Vra God vir oorwinning oor geestelike magte sodat mense gered kan word.
BEREI SUID-AFRIKA VOOR VIR ‘N SEËN
Beide seën en vloek is kanale waardeur geestelike krag vrygestel word. Ons hemelse Vader is die enigste bron van seëninge wat voordelig is vir mense. Bose magte en goddelose mense spreek vloeke uit wat geweldig skadelik is vir mense. ‘n Seën of ‘n vloek word uitgespreek of geskryf, of selfs net gedink. Lewenskeuses kan ook ‘n seën of ‘n vloek tot gevolg hê. ‘n Seën of ‘n vloek kan vir geslagte voortduur totdat iemand dit met ‘n gebed of ‘n veranderde lewenskeuse herroep. Ons woorde dra geweldige krag om mense en omstandighede ten goede of ten kwade te beïnvloed. “Die tong het mag oor dood en lewe.” Spr.18:21, (Afrikaans NV) "…maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is 'n rustelose kwaad, vol dodelike gif. Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie." Jak.3:8-10, (Afrikaans NV).
In die Ou Testament was dit die priester se taak om mense te seën: "Sê vir Aäron en sy seuns: So moet julle sê wanneer julle die Israeliete seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën." Num.6:23-27, (Afrikaans NV). In die Nuwe Testament is elke gelowige ‘n priester: "Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig." 1Pet.2:9, (Afrikaans NV). Jesus het ons beveel om mense te seën: "Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;" Mat.5:44, (Afrikaans OV).
BEWAAR JOU HART EN SIT ‘N WAG VOOR JOU MOND
"Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe."; "Sit 'n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê." Spr.4:23; Ps.141:3, (Afrikaans NV)
‘n Seën of ‘n vloek ontstaan in ons harte. As ons harte gevul is met bitterheid, woede, haat of wraak, kan ons nie seën nie. "Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery." Mat.15:18-19, (Afrikaans NV). Jesus het gesê dat strome lewende water uit ons sal vloei: "Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei." Joh.7:38, (Afrikaans NV). ‘n Seën is nie goedkeuring van sonde nie. Dit plaas sondaars in God se hande. Hy sal regverdig oordeel en namens ons geregtigheid laat geskied.
Christene, as ambassadeurs van Jesus Christus se koninkryk, word deur God se Gees in staat gestel om sonde, versoeking en natuurlike drange te oorwin. Christene se liefde vir God, vir mekaar, vir hul vyande, hul gehoorsaamheid aan God se opdragte en ‘n radikale heilige leefstyl, is die vereistes vir Goddelike seën. In die Nuwe Testament beteken God se seën nie noodwendig voorspoed, rykdom of beskerming nie, dit gee ons eerder die vermoë om lief te hê, ten spyte van vervolging, en krag om onreg te kan verduur, sodat mense gered kan word en God die Vader verheerlik word. Sulke gedrag behaag God verseker sy guns op ‘n land.
Die tyd het gekom om die Heilige Gees toe te laat om ons as Christene se harte en lippe te reinig. Ons nooi jou om deel te hê aan die 50 dae om Suid-Afrika te seën.
DAAGLIKSE GEBEDSGIDS
1. DAAGLIKSE SPIEËL
Laat die Heilige Gees toe om elke dag jou hart te ondersoek en jou te oortuig van verkeerde ingesteldhede, gedagtes, motiewe en woorde, wat verhinder dat God se seën deur jou kan vloei.
DAAGLIKSE GEBED: Vader God, vergewe my dat ek my hart teenoor mense verhard het en onsensitief geword het vir U stem en vir die lyding van mense. Verwyder asseblief die duisternis in my, wek my op tot lewe en help my om weer lief te hê en mense met deernis en genade te behandel. Help my om my hart te bewaar.
2. TOTALE OORGAWE
Gee jouself oor aan God. Laat Hom toe om jou so te verander, dat jou woorde en dade ‘n seën vir Suid-Afrika sal wees.
DAAGLIKSE GEBED: Vader God, vergewe my vir elke hardvogtige en ondeurdagte woord wat ek weens woede, ongeduld, haat en onsensitiwiteit teenoor familielede, mense van ander rasse, leiers of buitelanders, gespreek het. Verwyder elke vloek van my lippe en maak my ‘n werktuig van geregtigheid sodat ek Suid-Afrika kan seën. Sit asseblief ‘n wag voor my mond.
3. SEËN SUID-AFRIKA
Bid hierdie gebed daagliks vir 50 dae oor Suid-Afrika en die mense wat in ons land woon:
DAAGLIKSE SEËN: Ek seën Suid-Afrika in die naam van Jesus Christus: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën (Num.6:24-26, Afrikaans NV). "Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg." (Mat.5:3-12, Afrikaans NV); "Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is…en ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees." (Efe.1:3-4, Afrikaans NV)
WEEKLIKSE GEBEDSFOKUS
WEEK 1: 16-22 APRIL: DIE KERK en ANDER GELOWE
DAAGLIKSE SEËN VIR WEEK 1. Ons seën die Kerk in Suid-Afrika in die naam van Jesus Christus: Mag die Gees van God ons vul, die Woord van God se waarheid ons heilig; Ons onsself verneder voor God, bid en Sy aangesig soek, en ons bekeer van ons verkeerde weë; Mag ons gevul word met wysheid en geestelike onderskeiding, sodat ons tot eer van Jesus Christus mag lewe, die vrug van die Heilige Gees sal dra en toeneem in die kennis van God; Mag ons sout en lig wees en gehoorsaam wees aan die opdrag om die evangelie aan alle nasies te verkondig. Ons seën ons vyande, ons seën diegene wat ons haat, vervloek, beledig en vervolg. Ons seën mense van ander gelowe: Mag hulle oë oopgaan, mag hulle uit die duisternis gered word, en verlos van die mag van Satan en na God draai; mag hulle vergifnis van sondes en ‘n erfdeel in Christus ontvang; Mag hulle die liefde van God as Vader beleef, asook die genade en waarheid wat deur Jesus Christus gegee is, en die kragtige genesing en bevryding deur die Heilige Gees. O Here God, seën Suid-Afrika!
GEBED-STAP/RY: Kerke van verskillende denominasies, Christen bedieninge, teologiese skole, sending stasies, moskees, tempels, sinagoges, okkultiese aanbiddingsplekke, ens.
BID VIR: Pastore, dominees, priesters, profete, apostels, evangeliste, sendelinge, geestelike leiers, ouderlinge, diakens, lidmate van die Liggaam van Christus, ens.
TREE IN vir die redding van Jode, Moslems, Hindoes, Boeddhiste, New-Agers, Vrymesselaars, Sangomas, Sekte leiers, nominale Christene, ens.
WEEK 2: 23-29 APRIL: REGERING en REGSTELSEL
DAAGLIKSE SEËN VIR WEEK 2. Ons seën die Regering van Suid-Afrika in die naam van Jesus Christus, sodat ons in rus en vrede kan leef, en kan toeneem in volkome toewyding aan God, wat verlang dat alle mense gered sal word en tot kennis van die waarheid kom; ons seën ons leiers en gee hulle harte oor in God se hand, wat dit soos ‘n waterstroom kan rig en lei; Mag hulle in geregtigheid, eerlikheid en billikheid regeer teenoor alle burgers, buitelanders, die behoeftiges en minder bevoorregtes, en sal sorg dat reg geskied; Ons geveg is nie teen vlees en bloed nie, daarom seën ons ons leiers met verlossing van en beskerming teen bose magte, teen toordery en dat hulle nie betrokke sal wees in afgodsdiens en enige vorm van okkultisme nie; Ons seën hulle met wyse raadgewers en dat alle bose manne en vroue uit die geledere van die president, ministers en ander regeringsamptenare verwyder word. Ons seën ons regters, prokureurs, advokate, vervolgingsgesag en beskermingsdienste, met veiligheid, integriteit, outoriteit en wysheid om ons land te bewaar teen vernietigende ideologieë, misdaad, moord, geweld, volksmoord, revolusie en rebellie. O Here God, seën ons Regering!
GEBED-STAP/RY: Regerings-instellings, munisipaliteite, diens-lewerings agente, grensbeheer en doeane, howe, magistraatskantore, polisie stasies, weermag basisse, spesiale magte, metro polisie, sekuriteitsdienste, nooddienste, tronke, ens.
BID VIR: President, LUR’e, LP’s, politieke leiers, staatsamptenare, burgemeesters, raadslede, munisipale werkers, magistrate, prokureurs, advokate, regters, vervolgingsgesag, polisiemanne en vroue, soldate, buitelanders, vlugtelinge, tronkbewaarders, doeanebeamptes, ens.
TREE IN vir die redding van oortreders: onwettige immigrante, misdaad sindikate, motor-kapers, moordenaars, gevangenes, ens.
WEEK 3. 30 APRIL – 6 MEI: EKONOMIE, NATUURLIKE HULPBRONNE en LANDBOU
DAAGLIKSE SEËN VIR WEEK 3. Ons seën Suid-Afrika se ekonomie in die naam van Jesus Christus, met ‘n gesonde geldeenheid, met spoedige terugbetaling van nasionale skuld en dat Suid-Afrika nie nodig sal hê om geld by die Wêreldbank te leen nie! Mag Suid-Afrika ‘n stabiele omgewing wees vir buitelandse beleggers; Mag korrupsie uitgeroei word! Ons bid vir ons Regering om nasionale fondse en hulpbronne op ‘n verantwoordelike, betroubare en wyse manier te bestee, en vir ‘n gesonde balans tussen Regeringshulp en kreatiewe entrepreneurskap. Mag Suid-Afrikaners ‘n gesonde werkywer aan die dag lê. Ons seën ons natuurlike en minerale hulpbronne met verantwoordelike benutting vir volhoubare ontwikkeling; met beskerming van ons wildlewe en biodiversiteit, en ‘n gesonde respek vir die natuur. Ons seën ons land se infrastruktuur en werksmag. Ons seën Suid-Afrika se landbou met billike, goddelike wysheid en verantwoordelike verdeling van grond, met gesonde verhoudings tussen boere, werkers, markte en finansiële instellings. Ons seën ons boere met landbou-, bemarkings- en bestuursvaardighede, om grond optimaal te benut en lang-termyn voedselsekerheid te verseker. Vader God, seën ons land en stuur reën op die regte tyd, en help ons om onreg en kwessies uit die verlede, wat ons steeds verdeel, reg te bestuur en te verwyder.
GEBED-STAP/RY: Banke en finansiële instellings, besighede, winkels, infrastruktuur (paaie, lughawens, hawens, spoorweë), wildtuine, berge, strande, parke, myne, damme, riviere, plase, plotte, slagpale, graansilo’s, landbou-sentrums, ens.
BID VIR: Bestuurders, sakelui, werkers-unies, verteenwoordigers, kleinhandelaars, straat-verkopers, winkel assistente, kassiers, versekeringsagente, huisagente, fabriekswerkers, werkloses, pad- en konstruksiewerkers, lugwaardinne, vlieëniers, aflewerings-, bus en taxi-bestuurders, petrol-joggies, boere, plaaswerkers, vissermanne, natuurbewaringsbeamptes, ens.
TREE IN vir oortreders: korrupte beamptes en burgers, diewe, stropers, misdadigers, swendelaars, bedrieërs, opstokers van geweld, rebellie en misdaad, ens.
WEEK 4: 7-13 MEI: OPVOEDING en GESONDHEID
DAAGLIKSE GEBED VIR WEEK 4. Ons seën die opvoedkundige stelsel in Suid-Afrika in die naam van Jesus Christus. Ons seën die ontwikkeling van skole se leerplanne; ons seën ons skole, kolleges, universiteite, onderwysers en dosente, met die vermoë om ons jeug verstandelik en moreel met waarheid, goddelike wysheid, verantwoordelikheid en bekwaamheid, te vorm. Ons seën die jeug van Suid-Afrika met ‘n leerbare gees. Ons seën Suid-Afrika se mediese stelsel, mag hulle medelye hê met siekes en behoeftiges; ons bid vir gesonde mediese praktyke, verantwoordelike gebruik van farmaseutiese middels en betroubare mediese fondse. Ons seën gesondheidspersoneel met insig in die fisiese, emosionele en geestelike oorsake van siektes en die vermoë om die lyding van mense te verlig en te genees. Mag die Liggaam van Christus die genesingskrag van die Heilige Gees aan mense bedien. Ons seën Suid-Afrika met fisiese, emosionele, sielkundige en geestelike gesondheid.
GEBED-STAP/RY: Kleuterskole, dag-moeder fasiliteite, skole, spesiale skole en inrigtings, kolleges, universiteite, opleidings- en navorsingsfasiliteite, hospitale, klinieke, veearts-klinieke, apteke, aborsie-klinieke, rehabilitasie sentrums, psigiatriese instellings, ens.
BID VIR: Skoolhoofde, onderwysers, dosente, leerlinge, studente, studenterade, prefekte, doktors, verpleegsters, hospitaal werkers, tandartse, versorgers, siek mense, aptekers, paramedici, hulpwerkers, verslaafdes, blindes, dowes, parapleë, ens.
TREE IN vir die redding van: boelies, dwelmhandelaars by skole, aborteurs, mensehandel, onwettige handel in organe, valse mediese praktisyns (kruiedokters), ens.
WEEK 5: 14-20 MEI: MEDIA en SPORT
DAAGLIKSE SEËN VIR WEEK 5. Ons seën Suid-Afrika se media met akkurate, ware en onpartydige joernalistiek en verslaggewing. Ons seën hulle met onderskeiding tussen die waarheid en die leuen, vir die ontbloting van geheime agendas en om verantwoordelik om te gaan met programme, tydskrifte, koerante en kommentare. Mag Suid-Afrikaners die verantwoordelikheid besef om ons land te bou, eerder as om dit af te breek; om mense te bemoedig eerder as om te vervloek, aan te kla of te verkleineer, veral op sosiale media platforms; om te help om rassisme te oorkom, eerder as om haat, geweld en rassediskriminasie aan te vuur. Here Jesus Christus, help ons as Christene om geen haatspraak te beoefen nie! Ons seën ons sportlui, mag hulle uitblink in hulle sport, mag hulle voorbeeldige rolmodelle vir ons jeug wees en waardige ambassadeurs vir Suid-Afrika. Here God, seën Suid-Afrika met ‘n nuwe hart!
GEBED-STAP/RY: Radio-stasies, TV-stasies, koerant kantore, sport stadions, sport en gesondheidsklubs, ens.
BID VIR: Uitsaaiers, joernaliste, koerantverkopers, redakteurs, kommentators, sportafrigters, atlete, sportlui, sosiale media: Facebook, Instagram, Whatsapp, Twitter, email, ens.
TREE IN vir die redding van oortreders: vals en verdraaide nuus en beriggewers, opstokers van haat, rassisme en geweld, kuber-boelies, kuber-bedrieërs, wedstryd-knoeiers, opkikker gebruikers, ens.
WEEK 6: 21-27 MEI: KULTUUR, KUNS en VERMAAK
DAAGLIKSE SEËN VIR WEEK 6. Ons seën Suid-Afrika se verskeidenheid kulture. Mag God ons vergewe omdat ons toegelaat het dat ons kulturele agtergronde ons verblind en verhinder om in die waarheid van God se woord te wandel. Mag alle kulture in Suid-Afrika gereinig en bevry word, sodat ons die Here Jesus Christus ook met ons kultuur sal verheerlik. Mag alle inwoners van Suid-Afrika Jesus Christus as erfdeel verkry! Ons seën Suid-Afrika se toerismebedryf. Mag toeriste wat Suid-Afrika besoek geseën word en hier blootgestel word aan die evangelie van Jesus Christus. Ons seën Suid-Afrika se verskeidenheid kunstenaars! Mag hulle skeppings en optredes tot verheerliking van God wees. Ons seën Suid-Afrika se vermaaklikheidsbedryf. Mag dit gereinig word van alle perverse, onsedelike en okkultiese elemente. Mag Suid-Afrikaners bevry word van verslawing aan pornografie, visuele en digitale verslawing, dobbelary, dwelms, drank, ens. Vader God, seën Suid-Afrika se kulture!
GEBED-STAP/RY: Museums, kulturele geboue en monumente, pretparke, drama-teaters, flieke, kroeë, sjebiens, volwasse vermaak, dobbel-huise, casino’s, dwelmhandel-areas, bordele, speletjie arkades, mensehandel-areas, gesellinklubs, nagklubs, ens.
BID VIR: Akteurs, filmmakers, fotograwe, sangers, kunstenaars, argitekte, toeriste, DJ’s, sekswerkers, ens.
TREE IN vir die redding van oortreders: dwelm-handelaars, okkultiste, mensehandelaars, seks-handelaars, kuber-krakers, ens.
WEEK 7: 28 MEI – 4 JUNIE: GESINNE
DAAGLIKSE SEËN VIR WEEK 7. Ons seën die gesinne van Suid-Afrika in die naam van Jesus Christus, met liefdevolle, verantwoordelike, godvresende vaders en moeders, met gesonde gesinsverhoudinge, met respek tussen ouers en kinders, met genesing van seer as gevolg van mishandeling en verwerping; ons seën die vaders in ons land met die vermoë om vir hul gesinne te sorg en te voorsien, om hulle vrouens en kinders lief te hê en te koester; ons seën die moeders in ons land met die vermoë om hulle kinders te voed en te beskerm, om hulle mans lief te hê en te ondersteun; ons seën ouers sodat hulle hul kinders verantwoordelik kan dissiplineer en opvoed in die vrees van die Here; ons seën getroude pare met God se guns op hul huwelike; ons seën die kinders in ons land, insluitende die wese, met ‘n veilige en beskermde omgewing, met respek vir en gehoorsaamheid aan hul ouers en met ‘n hoopvolle toekoms vol beloftes. Mag hulle die Here Jesus Christus vroeg in hulle lewens leer ken. Ons seën enkellopendes, eensames en bejaardes, enkel ouers en geskeides; mag hulle die kameraadskap van vriende en familie beleef, mag die Here in hul behoeftes voorsien, hulle vertroos en al hulle wonde genees. Ons bid vir oortreders wat mans, vroue en kinders mishandel, wat ons jeug verlei met onsedelike verhoudings, dat hulle hul sal bekeer van hul verkeerde weë en genesing sal vind vir hul eie verslawings en wanpraktyke. Vader God, seën die gesinne van Suid-Afrika.
GEBED-STAP/RY: Jou woonbuurt.
BID VIR: Gesinne, vaders, moeders, mans, vroue, babas, kleuters, kinders, tieners, jong volwassenes, enkellopendes, bejaardes, geskeides, enkel moeders en vaders, eensames, swanger vrouens, selfde-geslag verhoudings, depressiewe mense en die wat selfdood oorweeg, ens.
TREE IN vir die redding van oortreders: verkragters, pedofiele, gesinsmoordenaars, gesinsgeweld, egbrekers, ens.
NASIONALE GEBEDSINISIATIEF uitgeroep deur die BIDDERS VAN SUID-AFRIKA
IFSA - INTERCESSORS FOR SOUTH AFRICA
‘n Forum van gebedsnetwerke en gebedsgroepe in Suid Afrika)